vrijdag 31 januari 2014
ma sal laat wees
dat ek na julle toe terugkom
moeg en sonder herinnering
dat die kombuisdeur oop is ek
inskuifel met tasse haastige presente
in die gange sluip rond my gesin
se verdrietige drome ruite aangepak
van hulle verlate taal in die harde
badkamerlig borstel ek my tande
druk 'n pilletjie op my tong: Do.
dat ek verbyloop waar my dogter slaap
haar lakens netjies geplat onder haar ken
op die spiƫltafel steier sywurms in goud getoom
dat ek my seuns verby kan kom
fronsend teen kussings aangevuis
hul onrustige ondertone kneus deur die kamer
dat ek 'n naghemp vroetel uit die laai
inglip in die donker skreef agter jou rug
dat die warmte naar my oorvloei
maak my nog digter nog mens
in die hinderlaag van asem
sneuwel ek tot vrou.
uit: Antjie Krog, 'Wat de sterren zeggen'
Abonneren op:
Reacties posten (Atom)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten